Die Burger se waardes waarbinne sy etiese kode geld, is die volgende:
- Die Burger is verbind om nuus waarheidsgetrou, akkuraat, eerlik en regverdig te rapporteer, en om kommentaar te publiseer wat regverdigheid weerspieël en nastreef volgens die hoogste standaarde in joernalistiek soos uiteengesit in die perskode wat hieronder volg.
- Die Burger is onafhanklik van die owerheid op alle vlakke, of enige druk- en/of belangegroepe.
- Die Burger moedig rasseharmonie aan en streef daarna om die welsyn en vooruitgang van alle sektore van die bevolking te bevorder deur sy verslaggewing.
- Die Burger tree op in die openbare belang as voorstander van vryheid van spraak.
- Die Burger is verbind tot die bevordering van Afrikaans onder alle sprekers, ongeag ras en etniese groepering.
- Die Burger steun 'n sakeomgewing waarin 'n onafhanklike mediabedryf kan meeding en floreer.
Die volgende vier beginsels geld as basiese riglyne in die daaglikse optrede van joernaliste, fotograwe en grafiese kunstenaars van Die Burger:
1. Soek die waarheid en doen so volledig as moontlik daaroor verslag
1.1 Akkuraatheid – toets die noukeurigheid van inligting deur dit aan die volgende vrae te onderwerp:
· Het jy 'n hoë mate van vertroue in die feite van jou berig/artikel en die bronne wat dit verskaf het? Indien nie, kan jy jou storie op 'n meer akkurate manier vertel? As jy enige twyfel het oor jou bronne, kan jy hulle uitskakel en vervang ten einde 'n groter mate van feitelike getrouheid te bewerkstellig?
· Het jy alle feite aan 'n bron gekoppel of gedokumenteer?
· Het jy die hooffeite gekontroleer en geverifieer, verkieslik by ander bronne as jou hoofbron(ne)?
· Kan jy die korrek gespelde naam en korrekte telefoonnommer van elke bron aan jou redakteur verskaf?
· Het jy volle vertroue dat al die feitelike verklarings in jou storie die waarheid reflekteer?
· Is jy bereid om in die openbaar jou kontrolering van feite en ander verifiëringsmetodes om jou storie se akkuraatheid te verseker te verdedig?
· Is die aanhalings in jou storie regverdig en in konteks aangebied?
· Haal jy anonieme bronne aan? Hoekom maak jy van sodanige bronne gebruik? Is jy bereid om in die openbaar die gebruik van daardie bronne te verdedig?
· Gebruik jy enige materiaal, dokumente of foto's wat deur anonieme bronne verskaf is? Hoekom? Hoeveel vertroue het jy in die egtheid van die materiaal? Is jy bereid om in die openbaar die gebruik van daardie bronne te verdedig?
· Het jy enige persone, rasse, kulture, nasies of segmente van die samelewing beskryf deur stereotipiese byvoeglike naamwoorde te gebruik? Is sodanige beskrywings akkuraat en betekenisvol in die konteks waarin dit aangebied is?
· Het jy potensieel aanstootlike taal of foto's in jou storie gebruik? Is dit noodsaaklik dat jy dit moet gebruik? Sal die storie minder akkuraat wees as daardie woord(e) of foto nie gebruik word nie?
· Reflekteer jou opskrifte, prikkelaars en plakkate die feite en konteks van die storie waarna dit verwys?
· Die volgende riglyne geld vir die gebruik van vloekwoorde, godsdiens-aanstootlike woorde of ander moontlike obsene woorde wat miskien kan aanstoot gee: Die beleid oor profaniteit en die gebruik van godsdienstige name wat moontlik aan spesifieke godsdienste aanstoot kan gee, het as vertrekpunt dat Die Burger by so 'n wye leserskorps as moontlik moet probeer aanklank vind. Al het die aanvaarbaarheidsvlak van sekere woorde vanweë 'n meer toegeeflike benadering by die publiek die afgelope aantal jare verander en meer toeskietlik geraak, moet ons die gebruik van dié soort woorde versigtig dophou en beperk tot die volgende uitsonderlike omstandighede:
1. Elke geval moet beoordeel en getoets word aan die kernvraag: Word 'n belangrike joernalistieke doel bereik deur die gebruik van die vloekwoord of obsene taalgebruik? Hoe sterker die taalgebruik, hoe belangriker en ernstiger moet die doel van ons gebruik daarmee wees. Is dit byvoorbeeld in die openbare belang dat ons die wese van wat gesê is, moet weergee? ('n Voorbeeld is die geval Percy Sonn se gekruide taal tydens die Krieket-Wêreldbekertoernooi toe hy onder die invloed van alkohol was. As openbare figuur het ons sy gekruide taal gepubliseer, hoewel met asteriske, omdat dit as illustrasie gedien het van sy onaanvaarbare gedrag. Dit was dus geregverdig omdat dit in die openbare belang was.)
2. Die konteks waarin die woorde gebruik word, moet deeglik in ag geneem word. Hier speel faktore soos openbare belang en die plek waarin die woorde in die koerant gebruik word 'n rol.
3. Indien daar twyfel bestaan of die woord gebruik moet word, moet 'n hoofredaksielid of lynhoof, maar verkieslik die redakteur, se raad gevra word.
4. Die gebruik van twyfelagtige woorde word uitsluitlik beperk tot aangehaalde materiaal. Die Burger se eie verslaggewers mag net in hoogs uitsonderlike omstandighede dié soort woorde gebruik en ook nie sonder toestemming van 'n hoofredaksielid of lynhoof, maar verkieslik die redakteur, nie.
5. 'n Algemene reël is dat indien 'n persoon in die nuus 'n profaniteit kwytraak wanneer niemand teenwoordig is behalwe 'n enkele of meer as een verslaggewer nie, Die Burger dit nie sal gebruik nie. Wanneer daar egter meer mense en ander lede van die publiek teenwoordig is, en die betrokke persoon bekend is, raak die aanhaling van die woord(e) meer aanvaarbaar.
6. Soms is taalgebruik nie profaan, obseen of godsdienstig aanstootlik nie, maar kan dit steeds aanstoot gee op grond van smaak. Die relevansie van die nuus moet dan as kriterium geld en behoort verslaggewers toegelaat te word om in die lig van nuusrelevansie oor sake soos die menslike anatomie, seks- en uitskeidingsfunksies te skryf. Smaak kan nie gereguleer word nie, maar verslaggewers en redakteurs moet in ag neem dat Die Burger hom posisioneer as 'n gesaghebbende koerant van openbare rekord waarin nuuswaardes ook deeglik in ag geneem moet word. Die ondeurdagte gebruik van profaniteit kan afbreuk doen aan dié posisionering.
7. Versagtende vorme van profane woorde en frases kan gebruik word, indien enige twyfel bestaan. Dit beteken nie dat alternatiewe woorde gebruik word nie, maar eerder 'n beletselteken. Wanneer besluit word om taal uit 'n aanhaling te sny, word so 'n beletsel- of weglatingsteken gebruik, bv. k? , s? en f? onderskeidelik vir kak, stront en fokken. Ons gebruik dus net die eerste letter van die woord, gevolg deur die em-teken. Asteriske mag nie gebruik word om weggelate letters aan te toon nie.
8. Die gebruik van dié soort woorde binne konteks word toegelaat in langer, ernstiger artikels of rubrieke wat normaalweg op die kunsblad, hoofartikelblad en Forumblad verskyn. Weer eens moet egter in ag geneem word of die gebruik van die woorde 'n belangrike joernalistieke doel dien en of daardie doel sou skade ly indien die woorde gewysig, met ems geredigeer, of bloot weggelaat word.
9. Dogmatiese weglating van profaniteite moet vermy word en besluite hieroor moet voortdurend geneem word in die lig van die spieël van die werklikheid wat Die Burger elke dag aan sy lesers probeer voorhou.
1.2 Plagiaat: Moet nooit plagiaat pleeg nie. Toets jouself aan die volgende vrae:
· Het jy behoorlike erkenning gegee aan enige materiaal wat nie jou eie is nie?
· Werk jy van jou aantekeninge/notas, of deur uit jou kop te memoriseer? Indien laasgenoemde, is jy seker jy gebruik nie iemand anders se frases of sinne uit jou geheue nie?
· Sal redelike mense die verskil agterkom tussen jou skryfwerk en ander s'n?
· Is jy goed genoeg ingelig oor jou onderwerp om potensiële probleme met jou werk te kan raaksien?
· Het jy ander aangemoedig om jou werk te lees om te sien of dit enige herinneringe loslaat wat plagiaat mag aandui?
1.3 Misleiding in 'n poging om die waarheid vas te stel: Kriteria vir regverdiging van die gebruik van 'n leuen en misleiding moet aan elkeen van die volgende vereistes voldoen:
· Wanneer die inligting waarna jy soek van groot belang is. Dit moet van uiters belangrike openbare belang wees, soos om byvoorbeeld inligting openbaar te maak wat 'n groot mislukking van stelselineenstorting rapporteer; of wat diepgaande skade of leed aan individue voorkom.
· Wanneer alle ander alternatiewe om dieselfde inligting te bekom misluk het.
· Wanneer die betrokke joernaliste en fotograwe bereid is om volledig en openlik die aard van die misleiding openbaar te maak, asook die redes daarvoor aan die belanghebbendes en die publiek.
· Wanneer die individuele betrokke verslaggewers en fotograwe en Die Burger uitnemendheid beoefen deur uitmuntende vaardighede sowel as deur die toesegging van die verlangde tyd en geld, om die storie volledig na te volg.
· Wanneer die skade wat voorkom word deur die inligting openbaar te maak deur middel van misleiding swaarder weeg as as enige skade wat veroorsaak word deur die daad van misleiding.
· Wanneer die betrokke verslaggewers en fotograwe 'n betekenisvolle, medewerkende en doelgerigte besluitnemingsproses in werking gestel het waarin die volgende geweeg is:
v Die gevolge (lang- en korttermyn) van die misleiding op hulle wat mislei word;
v Die impak op joernalistieke geloofwaardigheid;
v Die motiverings vir die joernaliste en fotograwe se optrede;
v Die misleidende daad in verhouding met Die Burger se redaksionele missie;
v Die regsimplikasies van die misleiding; en
v Die konsekwensie van die verslaggewers en fotograwe se beredenering en optrede.
· Dit is van die allergrootste belang dat enige selfondersoek en bevraagtekening van moontlike misleiding geskied voor van misleidende metodes van verslaggewing gebruik gemaak word en nie eers daarna nie.
1.4 Stereotipering: Die mens se ingeboude geneigdheid om ander te kategoriseer lei tot stereotipering op grond van geslag, ras, etniese verband, godsdiens, land van oorsprong, woongebied, seksuele voorkeur, fisiese en geestelike gestremdheid, al dan nie, politieke sienings, en ander vorme. Dié stereotipes versterk dikwels verkeerde persepsies teenoor enkelinge of groepe. Sonder om op artistieke vryheid inbreuk te maak, moet stereotipering sover as moontlik vermy word. Wat op die spel is, is die strukture, die waardes en die praktyke wat bepaal hoe nuus geselekteer word. Gevalle van moontlike stereotipering in nuusverslaggewing behoort in die redaksie omvattend bespreek te word tussen verteenwoordigende groepe uit verskillende rasse-, geslags- en ouderdomsgroepe. Verslaggewers en fotograwe van Die Burger streef daarna om die volgende riglyne ten opsigte van stereotipering na te kom:
1.4.1 Ras: Die ras van 'n persoon mag nie in berigte genoem word nie, tensy:
· die persoon se ras relevant is om byvoorbeeld 'n verdagte te kan identifiseer omdat dit in openbare belang is.
· mense wat om kommentaar genader is of wat by die nuusgebeure betrokke was as deelnemende partye, getuies of slagoffers, die ras van iemand noem ten einde 'n nuusgebeurtenis te beskryf.
· die ras in 'n hof genoem word en dit relevant is vir die saak wat verhoor word.
1.4.2 Geslag: Vermy stereotipering oor geslag en hanteer dit met omsigtigheid. Die volgende riglyne moet in ag geneem word wanneer gender ter sprake kom:
· Verhoog vroue se sigbaarheid in die nuus – nie alleen deur meer stories oor vroue (presteerders, sport, ens) te plaas nie, maar ook deur vroulike kundiges as bronne te gebruik; soek doelbewus vroue se perspektiewe.
· Navorsing toon slegs 10 % van nuusstories het vroue as sentrale fokus. Vra jouself af wat die fokus van die storie is en of dit pleks van uit 'n manlike perspektief vir mans, nie "geslagloos" kan wees om vroue ook in te sluit nie.
· Vroulike joernaliste toon 'n geneigdheid om meer vroue as bronne te gebruik. Alle joernaliste behoort uit hul pad te gaan om meer vroue as bronne te gebruik. Terselfdertyd moet joernaliste ook vroue aanmoedig om hul verhale te vertel – en dat hul stories ook waarde het.
· Streef daarna om per storie gelyke verteenwoordiging te kry van mans en vroue in gesagsposisies wat as bronne kan dien.
· Maak seker jy het balans in jou storie – veral as dit 'n kwessie is wat vroue raak – byvoorbeeld verkragting, vra jouself of die bronne gebalanseerd en verteenwoordigend is.
· Herken en verwerp degraderende kulturele gebruike wat vroue se stemme uit die media hou, of wat karikature van vroue maak, of stereotipes perpetueer.
· Kopie en foto's moet die onvanpaste gebruik of uitbuiting van vroulike seksualiteit vermy. Waar seksualiteit ter sprake is, moet dit met respek en sensitiwiteit vir almal gebruik word, sowel die onderwerp as die leser.
· Die aanvaarde praktyk om vroue volgens voorkoms, huwelikstatus en ouderdom te definieer, is diskriminerend – indien dit nie nodig is vir die berig nie, vermy.
· As onderwerpe in foto's: vroue is verhoudingsgewys oorverteenwoordig in foto's. Die afleiding is dat vroue op foto's is vir dekoratiewe doeleindes. Vra jouself af hoekom dit nodig is dat 'n vrou op die foto moet wees, en of dit nie ook 'n man kan wees nie.
· Moenie vroue as slagoffers uitbeeld nie. Die tipiese foto van die vrou huilend wanneer informele huisvesting afgebrand het, is 'n voorbeeld. Dit perpetueer die stereotipe dat vroue nie in beheer is nie, maar slagoffers van omstandighede. Gebruik ook mans vir sulke foto's en vir aanhalings.
· As 'n opvoedkundige rol, publiseer voorvalle van teistering, hoe dit hanteer word, en die gevolge.
· Verskaf 'n kontaklys (ook in die vorm van 'n aanlyn-databasis) van vroulike kundiges en organisasies op alle gebiede wat voortdurend aangepas en uitgebrei kan word aan alle joernaliste wat as bronne gebruik kan word.
1.4.3 Seksuele voorkeur: die gebruik van kwetsende woorde om mense se seksuele voorkeure te beskryf moet vermy word. Vermy aanduidings van mense se seksuele voorkeur in byvoorbeeld opskrifte tensy dit absoluut funksioneel is.
1.4.4 Diversiteit: stereotipering kan vermy word deur diversiteit in verslaggewing in ag te neem en te bevorder. Die volgende riglyne geld:
· Nuusberigte, grafika en foto's moet met sensitiwiteit, akkuraatheid en regverdigheid aangebied word teenoor alle betrokke partye.
· Neem die moontlike gevolge van jou berig/artikel/foto/grafika in ag. Wie sal benadeel en wie bevoordeel word.
· Maak gebruik van 'n diversiteit van bronne. Die gebruik van een minderheidspersoon kan neerkom op oëverblindery.
· Moenie dat vooropgestelde idees jou pogings om diversiteit in te sluit beperk nie.
· Wees buigsaam oor die moontlikheid dat die fokus van jou berig/grafika/foto mag verander as ander bronne ingesluit word.
· Ontwikkel 'n betekenisvolle lys van minderheidsbronne wat perspektief en kundigheid in die daaglikse nuusverslaggewing kan teweegbring.
· Bring tyd deur in minderheidsomgewings.
· Vermy dat plekname kodewoorde word met betrekking tot misdaad en ander negatiewe nuus.
1.4.5 Gestremdheid: wees versigtig in die beskrywing/omskrywing van mense met gestremdhede. Die gebruik van beskrywings soos dat iemand "mal" is of "geestesversteurd" is onaanvaarbaar. Geestesgestremd is 'n beter beskrywing.
2. Beperk skade tot die minimum
2.1 Regverdigheid: Toets die regverdigheid van jou verslaggewing deur dit aan die volgende vrae te onderwerp:
· Word die betekenis van dit waaroor jy verslag doen verdraai deur oor- of onderbeklemtoning van feite?
· Word feite en aanhalings van mense met wie onderhoude gevoer is behoorlik in konteks geplaas?
· Hou die berig/artikel se lengte en prominensie in die koerant verband met die belangrikheid daarvan, en is dit met waardigheid en professionaliteit aangebied?
· Word die opskrifte en prikkelaars geregverdig deur die inhoud van die berig/artikel?
· Het jy jou uiterste bes gedoen om alle kante van verhaal te vertel, of, netso problematies, het jy twee kunsmatiggedrewe kante van die saak weergegee?
· Het jy met deernis verslag gedoen oor 'n saak? Toon jou berig/artikel mededoë vir diegene wat negatief daardeur geraak word? Beoefen jy spesiale sensitiwiteit teenoor kinders waaroor jy verslag doen of onervare bronne of onderwerpe?
· Is alle betrokkenes, veral diegene wat moontlik deur jou verslaggewing geraak is of skade berokken kan word, die geleentheid gebied om te reageer? As hulle nie bereik kan word nie of geen kommentaar het nie, het jy die redes daarvoor verduidelik?
· As bronne nie behoorlik geïdentifiseer is nie, is daar 'n grondige rede daarvoor?
· As substantiewe foute of distorsies in jou koerant verskyn, plaas jy vrywilliglik, spoedig en met vergelykbare prominensie as die onakkurate berig/artikel 'n regstelling en verskoning?
· Moedig jy 'n oop dialoog met jou lesers aan? Voel andere, binne sowel as buite die redaksie, dat die berig/artikel regverdig is teenoor die betrokkenes?
· Is jy sensitief wanneer jy foto's of onderhoude aanvra van diegene wat deur tragedie of hartseer geraak word?
· Is jy volledig bewus daarvan dat die insameling van nuus en verslaggewing ongemak en skade kan aanrig en dat die inligtingsfunksie nie 'n paspoort tot arrogansie behoort te wees nie?
2.2 Privaatheid – Artikel 14 van die Suid-Afrikaanse Grondwet waarborg die reg van privaatheid. Die privaatheid van individue kan op die volgende wyse geskend word:
2.2.1 Indringing: Die doelbewuste indringing van 'n persoon se privaatheid deur
· Private eiendom te betree sonder die eienaar se toestemming, selfs al sê die polisie dit is in orde.
· Die gebruik van telefotolense om private oomblikke van mense af te neem.
· Die onregmatige gebruik van bandopnames, kameras, meeluisterapparaat of ander tegniese hulpmiddels om inligting te bekom. 'n Algemene reël om regmatigheid/onregmatigheid te toets by die gebruik van bogenoemde apparatuur, is dat as daar prima facie-bewyse bestaan dat iemand se optrede krimineel is, dat daar geen ander uitweg is om die inligting te bekom nie, en dat genoemde persoon herhaaldelik sonder grondige redes geweier het om daardie inligting te verskaf, dan kan 'n opname gemaak word sonder om die persoon mee te deel.
· Die afneem van iemand in 'n hospitaal sonder die toestemming van die pasiënt of familie.
2.2.2 Publisiteit aan private feite: Die publikasie van inligting wat waar is oor die privaatlewe van 'n persoon, wat terselfdertyd hoogs aanstootlik is vir 'n redelike persoon en ook nie in openbare belang nie, verteenwoordig indringing op die persoon se privaatheid. Dit word gewoonlik gemeet deur te bepaal hoe die inligting verkry is, en deur die nuuswaardigheid daarvan te beoordeel. Private feite oor 'n persoon se ekonomiese status, gesondheid, of seksuele aktiwiteite kan privaatheidskending wees. Die feit dat 'n persoon MIV/vigs onder lede het, mag nie genoem word sonder die persoon se toestemming nie. Die uitsondering hier is dat die name van openbare persoonlikhede wat aan vigs sterf, wel genoem mag word solank dit in openbare belang is. Groot omsigtigheid moet egter hiermee geneem word alvorens tot so 'n besluit oorgegaan word.
2.2.3 Vals lig of beklemtoning: Dit geskied wanneer inligting gepubliseer word wat die verkeerde openbare beeld of indruk van 'n persoon weergee.
2.2.4 Wederregtelike toe-eiening: Dit behels die gebruik van persone se naam, foto of ander afbeelding sonder hul toestemming, gewoonlik om geldelike gewin.
Toets die wyse waarop jy inbreuk maak op die privaatheid van mense waaroor jy verslag doen aan die volgende kriteria:
· Hoe belangrik is die inligting wat ek in die hande probeer kry?
· Het die publiek 'n reg en behoefte om te weet, of wíl hulle maar net weet?
· Watter graad van beskerming is die individue wat betrokke is by die storie op geregtig?
· Hoeveel skade kan hulle moontlik ly?
· Wat kan jy doen om die skade tot die minimum te beperk?
· Hoe sal jy voel as jy aan dieselfde mate van noukeurige ondersoek (skrutinering) onderwerp word?
· Kan jy duidelik en ten volle jou denkwyse en besluit om iemand se privaatheid binne te dring, aan die betrokkene(s) én die publiek verduidelik?
2.3 Hantering van bronne: Die Burger se verslaggewers is verplig om bronne van vertroulike inligting te beskerm en mag dit nie aan enigiemand buiten die redakteur of dié se verteenwoordiger bekend maak nie.
2.3.1 Voorwaardes by die gebruik van anonieme bronne:
· Die storie moet oorweldigend belangrik wees en in die openbare belang.
· Indien die storie nie op enige ander wyse verkry kan word nie.
· Indien die betroubaarheid van die bron bo verdenking is.
2.3.2 Hoe om anonieme bronne te gebruik: hou die volgende in gedagte voordat jy anonieme bronne gebruik:
· Wees baie duidelik oor Die Burger se standpunt oor die gebruik van anonieme bronne. 'n Belofte dat 'n bron se anonimiteit beskerm sal word, kan nie gemaak word sonder toestemming van die redakteur, of iemand anders in 'n uitvoerende posisie soos die nuusredakteur nie. As beloftes van anonimiteit gemaak word sonder hul toestemming, en jy beland in die hof, kan jy nie verwag dat jou redakteurs jou sal ondersteun nie.
· Probeer (weer) om jou bron te oorreed om sy/haar naam openbaar te maak. Soms is anonimiteit onnodig.
· As die bron nie wil toegee nie, probeer om die inligting van 'n ander bron te verkry. Dit is altyd beter om 'n bron te identifiseer as om 'n storie rondom anonieme bewerings saam te stel.
· Probeer om 'n belofte te maak op voorwaarde dat as die saak na die hof toe moet gaan, dit nie meer geld nie. 'n Voorwaardelike onderneming van anonimiteit kan vooraf gereël word met die bron.
· As jy anonimiteit sonder enige voorwaardes belowe, moet jy dit nakom, al beteken dit dat jy tronk toe moet gaan as gevolg daarvan. Soms is 'n bron nie gelukkig met 'n voorwaardelike onderneming nie. Dan is jou integriteit as joernalis op die spel. As jy eers jou anonimiteit belowe het, is daar geen uitweg nie. As jy dink daar is, behoort jy nie 'n joernalis te wees nie.
· Moenie dat 'n anonieme bron Die Burger gebruik om 'n veldtog te voer of 'n aanval te loods op iemand anders nie. Dit geld ook briefskrywers wat persoonlike aanvalle loods op ander onder 'n skuilnaam. As 'n bron iemand anders aanval en bereid is om sy/haar naam bekend te maak, behoort die persoon of instelling wat aangeval word die geleentheid te kry om te reageer. Maar as die bron anoniem is, word die persoon wat aangeval word benadeel. Moenie jou bron daardie onregverdige voordeel gee nie.
· Maak dit duidelik aan die publiek hoekom jy 'n anonieme bron gebruik.
· In politieke verslaggewing moet die politieke affiliasie van die anonieme bron genoem word. Weer eens, moenie anonieme politieke bronne gebruik om ander aan te val nie.
· Openbaar die naam van jou anonieme bron aan jou redakteur indien hy/sy daarop aandring. Dit is goeie beleid om 'n bron te laat begryp dat jou redakteur mag aandring om te weet wie die bron is.
· As jy uitvind dat jou bron 'n leuen vertel het, deel dit mee aan die publiek. Alle beloftes van anonimiteit is van nul en gener waarde as jy in enige stadium agterkom dat jou bron gelieg het. Publiseer sy/haar naam en vertel die publiek hy/sy het 'n leuen vertel.
· Moenie enige rekords hou van vertroulike bronne nie. Dit sal verhoed dat die polisie moontlik daarop kan beslag lê. Die Burger se verslaggewers is nie verlengstukke van die polisie, veiligheidsmagte of enige ander instelling nie.
· Moet nooit met iemand gesels oor anonieme bronne of enige vertroulike inligting oor hulle met iemand anders behalwe jou redakteur deel nie. Dit sal jou en jou bronne beskerm. Dit geld ook jou familie en vriende. Moenie hulle daardeur in gevaar stel nie.
2.3.3 Algemene riglyne m.b.t. bronne:
· Maak dit baie duidelik wanneer jou gesprek op of van die rekord af is. Beide die verslaggewer en die bron moet duidelik begryp wat die status van die gesprek is. As dit nie duidelik is aan albei partye nie, kan allerhande probleme opduik. Vermy dié soort situasie ten alle koste.
· Moet nooit "ja" sê vir 'n gesprek van die rekord af nadat die gesprek reeds plaasgevind het nie. Te dikwels openbaar 'n bron belangrike inligting, net om later koue voete te kry. Dis jou bron se probleem, nie joune nie. Probeer egter regverdig wees omdat jy later weer van die bron sal wil gebruik maak.
· Moet nooit enige gesprek op band opneem sonder die bron se wete nie. 'n Bandopname is noodsaaklik vir akkurate beriggewing en dus 'n noodsaaklike hulpmiddel vir enige verslaggewer. Maar die etiese en korrekte stap is om jou bron in kennis te stel dat jy 'n gesprek gaan opneem. Dit sal die bron versigtiger maak wat ook voordele inhou.
· Moet nooit bronne misbruik of deur hulle misbruik word nie. Moenie woorde plaas in die mond van 'n bron nie, maar moet nooit 'n bron toelaat om voor te skryf wat jy moet skryf nie.
· Moenie toegee aan bronne se druk om jou storie goed te keur nie. Dit is egter gesonde praktyk wat jou beskerm deur bronne toe te laat om aanhalings te sien/hoor wat hulle woorde bevat om te verseker dat iemand korrek aangehaal is. Moenie dat 'n bron egter die wyse waarop jy die storie aanbied, beïnvloed nie.
· Identifiseer jouself as 'n verslaggewer van Die Burger so vroeg as moontlik in die gesprek. Moenie die bron mislei nie.
· Probeer om alle inligting te verifieer. Dit verminder die kanse dat jy mislei word. Die algemene reël is om nie te publiseer tensy jy die inligting uit 'n ander bron kan verifieer nie.
3. Tree onafhanklik op
Verslaggewers en fotograwe van Die Burger behoort vry van verpligting teenoor enige belange- en drukgroep en politieke party te wees buiten die publiek se reg om te weet.
3.1 Interne gewetenstoets: Twee nuttige "interne toetse van jou gewete" kan deurgaans deur joernaliste en fotograwe gebruik word, indien onsekerheid bestaan:
· Kan jy in alle eerlikheid sê dat die betrokke guns of aanbod – of dit 'n koppie koffie, 'n sigaar, 'n week in Mauritius, of 'n besoek aan die Midde Ooste op uitnodiging van die Arabiese Bond of aan Israel op uitnodiging van die Joodse Raad van Afgevaardigdes is – nie 'n invloed sal uitoefen op jou onpartydigheid nie?
· Sal jou lesers seker wees van jou geloofwaardigheid, selfs al het jy geen twyfel daaroor nie?
3.2 Belangebotsings: Vermy botsende belange van die volgende aard:
3.2.1 Geskenke: Alle geskenke wat aan verslaggewers/fotograwe in die uitvoering van hul pligte gegee word, moet aan die redakteur verklaar word. Die beste uitweg is om enige geskenk wat 'n potensiële nuusbron aan 'n redaksielid stuur, dadelik en beleef terug te stuur. Dit is ook altyd beter om Die Burger te laat betaal vir 'n ete. Geen gratis ete bestaan nie.
3.2.2 Reise: Alle uitnodigings aan redaksielede om reise op koste van enige organisasie of persoon mee te maak, moet aan die redakteur gerig of verklaar word wat oor die meriete van die uitnodiging sal besluit. Geen uitnodiging mag aanvaar word sonder die redakteur se toestemming nie.
3.2.3 Buitewerk ("moonlighting"): Goedkeuring moet verkry word vir enige buitewerk wat joernaliste en fotograwe verrig wat nie verband hou met hul werk vir Die Burger nie. Die koerant het prioriteit op jou dienste bokant die vryskutwerk.
3.2.4 Affiliasie met organisasies: Die probleme wat kan opduik wanneer verslaggewers en fotograwe hul affilieer met organisasies – hetsy polities, taal-kultureel, of ander – en drukgroepe kan hul geloofwaardigheid en onafhanklikheid onder verdenking bring. Om by organisasies geaffilieer te wees, kan, aan die ander kant, die geleentheid bied om mense te ontmoet, kontakte uit te brei en moontlike nuusbronne te identifiseer. Die goue middeweg is dat die soort organisasie met omsigtigheid gekies moet word: 'n brug-, skaak- of sportklub bied veel minder van 'n probleem as 'n politieke organisasie of aktivistiese drukgroep wat nuuswaardig is. Redaksielede moet sensitief wees en nie toelaat dat enige situasie hul professionaliteit aantas nie. Onpartydigheid is die wagwoord en om dit te bewerkstellig, is afstanddoening van affiliasie by drukgroepe wat die koerant in die verleentheid kan stel, die enigste uitweg.
3.2.5 Vriende en familie: Vermy situasies waarin die vinger van nepotisme na jou as redaksielid gewys kan word. Artikels of ander bydraes wat deur familielede geskryf word, behoort nie deur die betrokke redaksielid aangevra en gekeur te word nie, maar deur die redakteur of sy/haar aangewese lynhoof.
3.2.6 Betaling vir inligting: Geen betaling mag gemaak word vir inligting wat van iemand verkry word met 'n kriminele rekord nie. Tjekboekjoernalistiek moet ten alle koste vermy word. Dit sluit nie die betaling in van foto's nie wat van vryskutfotograwe verkry word wat nuuswaardige foto's aanbied.
3.2.7 Promosies: Redaksielede moet versigtig wees om nie by verbruikersaangeleenthede betrokke te raak wat hul verbintenis met en siening van enige produk of diens kan beïnvloed nie. Dit sluit optrede in in advertensies, produkbevordering, die vervaardiging en verskyning in korporatiewe video's en openbare skakelwerk. Om by promosie-aktiwiteite van produkte en dienste buiten dié van jou maatskappy betrokke te raak doen skade aan verslaggewers en fotograwe se onpartydigheid en neutraliteit.
3.2.8 Liefdadigheidswerk: Betrokkenheid hierby is normaalweg aanvaarbaar behalwe as 'n liefdadigheidsorganisasie omstrede begin raak wat Die Burger se verslaggewing daaroor kan beïnvloed.
3.2.9 Verslaggewing vir ander publikasies: Dit is aanvaarbaar om artikels te skryf, foto's te neem of grafika te ontwerp vir ander publikasies sonder toestemming solank die publikasies binne die Media24-groep is. Toestemming moet gevra word indien werk vir 'n publikasie buite die groep aangebied word wat gewoonlik nie toegestaan word nie.
3.2.10 Betrokkenheid by berigte/artikels waarby jy as nuusonderwerp betrek word: Een van die belangrikste onafhanklikheidsreëls van die joernalistiek is dat verslaggewers dit ten alle koste moet vermy om oor hulself te skryf. Daar is uitsonderings, soos byvoorbeeld wanneer die verslaggewer die onderwerp word van 'n nuusgebeurtenis ('n motorkaping byvoorbeeld) omdat dit die nuus toelig en konteks gee. Die reël wat egter deurentyd in gedagte gehou moet word, is dat verslaggewers rapporteerders is van nuusgebeure, nie die onderwerp daarvan nie. Wanneer 'n verslaggewer byvoorbeeld 'n boek geskryf het of 'n CD gemaak het wat kommersieel bemark word, mag hy/sy nie self daaroor skryf in Die Burger in wat gesien kan word as selfpromosie vir die produk nie. Dit is verkieslik dat iemand onafhanklik van die verslaggewer so 'n artikel skryf, maar wat altyd in aanmerking geneem moet word, is dat die produk liefs deur middel van normale advertensiepraktyke in Die Burger geadverteer moet word. Verslaggewers moet selfpromosie dus ten alle koste vermy.
3.2.11 Onvermydelike belangebotsings: Enige botsings van dié aard moet onmiddellik aan die redakteur verklaar word.
4. Aanvaar aanspreeklikheid
Joernaliste en fotograwe van Die Burger aanvaar aanspreeklikheid teenoor hul lesers en mekaar. Die Burger is 'n voorstander van die volgende etiese beginsels oor verantwoordelike joernalistiek:
· Om nuusdekking behoorlik te verduidelik aan lesers en dialoog aan te moedig met die publiek oor joernalistieke gedrag en optrede.
· Om die publiek uit te nooi om griewe, klagtes en besware teen Die Burger te lug, hetsy by die koerant se redakteur of interne ombudspersoon, of by die Suid-Afrikaanse Pers-ombudsman.
· Om foute wat in die beriggewing en fotojoernalistiek in Die Burger voorkom, te erken en dit dadelik reg te stel.
· Om onetiese praktyke van verslaggewers, fotograwe en die nuusmedia bloot te lê en daaroor te rapporteer, sou dit voorkom, en om 'n benadering en persepsies ten alle koste te vermy waarvolgens beoefenaars van die beroep mekaar beskerm.
· Om dieselfde hoë standaard te handhaaf wat vereis word van mense, instansies en organisasies buite die joernalistieke beroep.
Saamgestel deur George Claassen, Desember 2002 – November 2003
Bronne:
1. Gedragskode van die Pers-ombudsman van Suid-Afrika
2. Jay Black et al: Doing Ethics in Journalism – A Handbook With Case Studies, The Poynter Institute for Media Studies, St. Petersburg, 1999.
3. Johan Retief: Media Ethics – An Introduction to Responsible Journalism, Oxford University Press, 2002.
4. Global media Monitoring Project (GMMP)
5. International Women's Media Foundation (IWMF)
6. African Women's Media Centre (AWMC)
7. Media Awareness Network
8. Prof. Lizette Rabe, Departement Joernalistiek, Universiteit van Stellenbosch
Etiese Kode vir Die Burger se Fotoredaksie
Die Burger se fotoredaksie het ewe hoë agting vir die waardes en standaarde van fotojoernalistiek as vir dié van die publiek wat daardeur gedien word, en ons fotojoernaliste verbind hulle tot hierdie etiese kode:
1. As fotojoernaliste aanvaar ons die verantwoordelikheid om die samelewing te dokumenteer en 'n visuele rekord van geskiedkundige gebeure uit te bou. Vanwëe die aard van hierdie diens aan die gemeenskap, wil ons onafhanklik bly van oormatige persoonlike oorwegings en geldsugtigheid.
2. Eerlikheid, akkuraatheid en onafhanklikheid is ons grondbeginsels. In ons fotodekking streef ons dus na 'n korrekte, eerlike en objektiewe weergawe van die situasie.
3. As joernaliste is geloofwaardigheid ons belangrikste bate. Omdat ons aanvaar dat ons integriteit aangetas word deur manipulasie, is ons gekant teen enige vorm daarvan, insluitende:
a. digitale manipulasie in sover dit die boodskap en / of betekenis van 'n foto verander.
b. die uitoefening van ons invloed op die natuurlike verloop van gebeure.
c. die bevordering van stereotipes met inbegrip van ras, geslag en geloofsoortuigings.
4. Ons respekteer die universele reg op privaatheid van 'n individu, en handhaaf openbare belang as riglyn.
5. Slagoffers van trauma sal ten alle tye met sensitiwiteit en deernis benader word. Leed en lyding moet geminimaliseer word.
Saamgestel deur Johann van Tonder, Fotoredakteur : Die Burger, Augustus 2002
|