Taco Kuiper Winners 2006
Beeld and Die Burger's winning stories: Sourced from the respective newspapers' websites
‘DKD: Tronkhoof verbind met tenderfirmas’
This is the first story of a series that saw Adriaan Basson and
Carien du Plessis win the gold in the 2006 Taco Kuiper Awards. It was first published in the Beeld
newspaper, July 26 2006 02:32:54:333PM – (SA)
Adriaan Basson en Carien du Plessis, Beeld
Suid-Afrika se tronkhoof het sakebande met twee maatskappye aan wie die
departement van korrektiewe dienste (DKD) die afgelope jaar drie
staatskontrakte van bykans R1 miljard toegeken het.
'n Beeld-ondersoek het bevind 'n verteenwoordiger elk van Sondolo IT en
Phezulu Fencing – twee maatskappye aan wie die DKD sedert April verlede
jaar in totaal kontrakte van R948 229 774,66 toegeken het – is ook
verbonde aan die maatskappy van wie mnr. Linda Mti, nasionale
kommissaris van die DKD, 'n direkteur is.
Lianorah Investment Consultancy is op 14 Februarie 2005 geregistreer en
Mti, 'n direkteur van die maatskappy, mnr. Tony Perry, 'n amptenaar, en
die Krugersdorpse ouditeursfirma Bester Viljoen Inc. is op 14 Maart
2005 aangestel.
Mti is sedert Augustus 2001 die land se tronkhoof.
Perry is ook 'n amptenaar van Sondolo IT, terwyl Bester Viljoen Inc. in die direksie van Phezulu Fencing dien.
Dié onthulling kom twee weke nadat die ouditeur-generaal sy verslag in
die parlement ter tafel gelê het waarin hy bevind het 1 678 LUR's en
regeringsamptenare het private belange wat nie behoorlik verklaar is
nie.
Mti ontken dat daar 'n botsing van belange bestaan tussen sy private belange en amptelike posisie.
Volgens hom is Lianorah Investment Consultancy dormant en hét hy sy sakebelange aan die Staatsdienskommissie verklaar.
Sondolo IT én Phezulu Fencing was vandeesweek in die nuus nadat
aanvanklik berig is geld vir dié tenders het uit die begroting van R1,2
miljard gekom wat bedoel is vir die bou van vier nuwe tronke. Die DKD
het intussen gesê R640 miljoen wat hulle vanjaar gespaar het, is vir
hierdie tenders gebruik.
Sondolo IT, 'n filiaal van die Bosasa-groep wat onder meer die kombuise
van sommige tronke bestuur, het in April verlede jaar 'n tender gekry
om toegangsbeheerstelsels in 66 tronke te installeer en te onderhou.
Luidens amptelike tenderdokumente sal dit die DKD sowat R237 miljoen
kos.
Dié tender is sowat 'n maand ná Mti se aanstelling as 'n direkteur van Lianorah Investment Consultancy aan Sondolo IT toegeken.
In Desember 2005 is 'n tender aan Phezulu Fencing toegeken vir die oprigting van binne- en buiteheinings met kringtelevisies.
Die heinings sou sowat 28 km lank wees.
Dié tender, plus onderhoud vir vier jaar, sou die DKD sowat R486,9 miljoen uit die sak jaag.
Vandeesmaand is nóg 'n tender aan Sondolo IT toegeken – dié keer vir 6
000 TV-stelle en monitors in álle tronke wat teen R159 miljoen
geïnstalleer gaan word.
Sowat R1,4 miljoen per maand – R65,4 miljoen in totaal – word uitbetaal
vir die onderhoud van hierdie stelsels in die vier jaar nadat die
waarborgjaar verstryk het.
Mnr. Manelisi Wolela, DKD-woordvoerder, het gesê die stelsels is deel
van die departement se ITstrategie wat van toekomstige
breëband-tegnologie gebruik sal maak. Perry en Bester Viljoen Inc. se
direkteurs het teen druktyd nie gereageer op boodskappe nie.
Wie is Linda Mti?
– Begin in 1976 werk as 'n laboratoriumtegnikus in Port Elizabeth.
– Word in 1977 saam met Steve Biko aangehou en sluit ná sy vrylating aan by die ANC in Lesotho.
– Dien die ANC tussen 1978 en 1991 as onder meer bevelvoerder van Umkhonto we Sizwe.
– In 1991 aangestel as ANC-voorsitter in die Oos-Kaap. – Word in 1994
'n ANC-LP en beklee die posisie van voorsitter van die
portefeuljekomitee oor veiligheid en sekuriteit.
– In 1996 aangestel as hoof van die Nasionale Intelligensiekoördineringskomitee.
– Sedert Augustus 2001 nasionale kommissaris van die DKD.
Tronkbaas ontken belangebotsing
Komm. Linda Mti verwerp bewerings dat daar 'n botsing bestaan tussen sy
private sakebelange wat hy glo, soos vereis, aan die
Staatsdienskommissie verklaar het en sy mandaat om die DKD se
dienslewering te lei.
"Ek is die enigste eienaar en direkteur van 'n dormante maatskappy wat
ek gevestig het en na my moeder genoem het – Lianorah Investment
Consultancy. Dié maatskappy het nog nóóit enige saketransaksies gedoen
nie.
"Die enigste kontak wat ek gehad het met mnr. Tony Perry, 'n afgetrede
geoktrooieerde rekenmeester wat gewoonlik ontluikende swart
ondernemings help met die tegniese aspekte daarvan om 'n entiteit te
registreer, was sy bystand met die maatskappy se registrasie. Hy het
ook aangebied om te dien as die maatskappy se sekretaris. Ek dra geen
kennis van of neem deel aan sy sakeondernemings nie.
"Ek dra geen kennis van Bester Viljoen of sy sakebelange nie."
Read more of the 2006 Taco Kuiper Awards winning stories by Beeld and Die Burger , joint second place winners, the Sunday Tribune and the Mail & Guardian's stories, Anton Harber's address about the judging process and the keynote speech by Gavin Macfayden.ÂÂÂ